AKKURAATHEID VAN DIE SKRIF ONOMWONDE BEVESTIG

 

In die laaste jaar of twee was daar verskeie berigte van sg. teoloë wat die Bybel in twyfel trek. Veral in die nuus was die berugte ‘Jesus Seminar’ wat baie besig is met ‘bewyse’ dat die historiese Jesus nie regtig geleef het nie en dat die evangelies maar eintlik net verhale is wat mense "van bepaalde geloofstandpunte wou oortuig" (Die Volksblad, 02.11.2000). Volgens hierdie mense kan net 16% van Jesus se optredes in die evangelies as histories betroubaar gereken word - aldus hulle natuurlik ! Die Bybel is volgens hierdie ongelowiges nie ‘n boek met werklike historiese waarde nie. Tog is hulle koorsagtig op soek na die ‘historiese Jesus’. Hulle hou nie van die Jesus wat in die Bybel vir hulle voorgehou word nie en is nou besig om hulle eie ‘Jesus’ te skep in hulle eie verbeeldingswêreld.

Daar is tot ‘n Suid-Afrikaanse teoloog op die ‘Jesus Seminar’ se span Godloënaars. Hy is ‘n prof. van Aarde van die teologiese fakulteit aan die universiteit van Pretoria. Blykbaar is hy van die Hervormde Kerk, maar dit is tog insiggewend dat die N.G. en Hervormde kweekskole aan die UP nou saamgesmelt het. Hierdie man leer dus nou sy "verderflike ketterye" (2 Pet. 2:1) aan menige jong teologiese student.

Dit bly baie verstommend dat teoloë van ons dag so graag waarsku dat die Bybel nie ‘n wetenskaplike handboek of ‘n gesagvolle geskiedkundige bron is nie. Wêreldse howe het al die teendeel bevestig. Kyk net na die volgende feit. In 1980 het die Amerikaanse hooggeregshof uitspraak gelewer in die saak, Stone vs. Graham. Deel van die uitspraak was as volg:

 

"the Bible may constitutionally be used in an appropriate study of history, civilization, ethics, comparative religion, or the like." - Stone v. Graham, 449 U.S. 39,42 (1980).

Die huidige vlaag Bybelvreemde uitsprake van ‘n steeds groter wordende lys Suid-Afrikaanse teoloë, behoort egter geensins vir die kerklike publiek ‘n verrassing te wees nie. Die inhoud van hulle uitsprake en aansprake is wel totaal onbybels, maar die feit dat hulle dit kwytraak, verseker nie.

Ons moet onthou dat die kwessie rondom die opstanding van Jesus, al dan nie, ‘n baie lang geskiedenis het. Die Sadduseërs van Jesus se tyd het alreeds die opstanding uit die dode bevraagteken en baie van die Skrifgeleerdes van destyds het selfs die volk aangemoedig om Christus te kruisig. Hulle het Hom beskou as ‘n bedreiging vir hulle posisie en status in die samelewing. Vandag beleef ons nog steeds hierdie tendens. Niks het verander nie. Iemand het gesê: ‘Hoe meer die mens verander, hoe minder verander hy.’

‘n Treffende voorbeeld van wat weer vandag aan die orde is, vind ons in Matt. 16:1-3. Daar lees ons hoedat die Fariseërs en die Sadduseërs Jesus om ‘n teken uit die hemel gevra het. Dit was ‘n verbasende vraag vir Skrifgeleerdes. Hulle het die hele Ou Testament tot hulle beskikking gehad en as hulle enigsins ‘n verhouding met die lewende God gehad het, sou hulle een ding baie goed verstaan het. Hulle sou geweet het dat die grootste teken ooit uit die hemel, Jesus Christus, op daardie stadium reg voor hulle gestaan het ! Hoe kon hulle so ‘n vraag vra ? Hulle het dan die Messias verwag wat in honderde Ou Testamentiese profesieë voorspel was. Daarom moes Jesus hulle reguit vermaan: "Geveinsdes ... kan julle nie die tekens van die tye onderskei nie?" Vandag is niks anders nie. Daar is niks nuuts onder die son nie. As die Woord van God betwyfel word, is dit eintlik die bestaan van Jesus Christus wat betwyfel word, want Hy is self die Woord wat vlees geword het.

Hierdie saak se begin lê natuurlik nog verder terug. Om God se Woord in twyfel te trek, is al vir millennia lank iets wat die ongelowige mens met ‘n besonderse passie doen. Sedert die Satan daardie eerste keer gevra het: "Is dit ook so dat God gesê het?" (Gen. 3:1) en die mens hom geglo het, was hierdie wêreld nooit weer dieselfde nie. Die sg. ‘Jesus Seminar’ (met tot ‘n lid uit ‘n bekende kweekskool in SA) kom gereeld byeen om te besluit: "Is dit ook so dat God gesê het?" Ja, hulle besluit self wat Jesus (God) gesê het en wat Hy blykbaar nie gesê het nie. Hulle het al tot die slotsom gekom dat Christus maar net 18% van sy ‘beweerde’ uitsprake in die evangelies ‘regtig’ geuiter het. Hier is dus geen sprake van enige geloof nie. Die probleem is nou net dat "sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag" (Heb. 11:6). Hierdie groep het ook al ‘n sg. 5de evangelie saamgestel. Die interessante is nou net dat hulle verwag dat mense hulle woorde moet glo en aanneem asof dit besondere gesag dra. Hulle moet dus ten minste net so groot of groter as God wees ! Hulle moet ‘n besonders briljante groep wees of die saak het ?n heel ander kant.

In Joh. 5:46,47 moes Jesus die Skrifgeleerdes ernstig vermaan oor hulle ongeloof. Hy het vir hulle gesê dat as hulle Moses en die profete nie glo nie, sal hulle ook sy woorde nie kan glo nie. Hierdie is ‘n kernbelangrike punt. Vandag glo talle ook nie dat Moses die eerste 5 boeke van die Bybel geskryf het nie. Jesus het duidelik so geglo, want Hy het gepraat van "sy [Moses se] geskrifte" (Joh. 5:47). Daar word vandag verder getwyfel aan die egtheid of betroubaarheid van veral Genesis 1-11. Dit is egter ‘n baie tipiese verskynsel. Dan kan jy sommer maklik die bestaan van ‘n Satan ook ontken - hedendaagse Satanisme en veel meer ten spyt ! So verskoon jy dan jouself as jy begin kritiek lewer op God se Woord en wee hulle wat jou woorde in twyfel trek ! Jesus het nie getwyfel in Gen. 1 en dit wat daarop volg nie. In Matt. 19:4 het Hy self getuig van die skepping van die eerste man en vrou. Hy het self verwys na Genesis !

Die groot vraag is en bly natuurlik: ‘As die Bybel God se Woord is, hoe kan dit bewys word?’ Of is daar geen bewyse nie? Is alles maar net blinde geloof of is die Bybel ‘n Boek waarvan die inhoud empiries geverifieer kan word ? Soos vroeër al genoem, Jesus het die Skrifgeleerdes van destyds verkwalik omdat hulle nie die Woord van die Ou Testament geglo het nie. ‘n Mens kan sê dat Hy die reg daartoe gehad het, want alles oor sy eerste koms na die wêreld was vooruit geprofeteer, van sy geboorte in Bethlehem af tot by sy hemelvaart. Onthou hierdie Joodse geleerdes het die Skrif baie goed geken ? groot gedeeltes moes uit die hoof geleer word. Hoekom het baie van hierdie mense nie geweet wie Jesus was nie en hoe het die Kananese vrou Hom dan dadelik erken as: "Here, Seun van Dawid" (Matt. 15:22). Iets om oor te dink.

In Jes. 46:9,10 verklaar die Bybel dat God die einde van die begin af verkondig. Dit is ‘n reuse uitspraak. Die Bybel is ‘n verstommende Boek. Dit is die enigste Boek op aarde wat terseldertyd die begin van alles (die skepping) en die einde van alles (in hierdie wêreld) in detail beskryf. Die Outeur van hierdie Boek het sy eie integriteit op die spel geplaas. Die geskiedenis, die hede en die toekoms sou dus bewys of Hy werklik is wie Hy gesê het Hy is. Is Hy ‘n God wat doen wat Hy sê ? Of is baie dinge aan toeval oorgelaat? Ons kan nou die werklikheid beskou en tot ‘n slotsom kom daaroor.

Die Bybel is inderdaad ‘n boek van profesie. Ongeveer een derde van die hele Skrif is profesie. Hier lê die uniekheid van die Skrif. In die verband sê die Nuwe Testament ook veel. Petrus, wat bereid was om te sterf vir hierdie Jesus, het getuig: "ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit;" (2 Pet. 1:16). Dan gaan Petrus voort: "En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee" (2 Pet. 1:19). Die Engelse Bybel praat van "a more sure word of prophecy". Die profetiese woord is dus nog meer vas as die feit dat Petrus en die ander Jesus persoonlik aanskou het !

Dieselfde Petrus het geskryf oor Jesus Christus, die Hoeksteen wat die bouers verwerp het. Ons lees in 1 Pet. 2:7 - "Vir julle wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: ‘n Steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling" Ja, vir talle liberale, ongelowige teoloë van ons dag is hierdie Christus ‘n Steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling!

Hulle probeer Hom wegwens, maar val gedurig oor Hom. Hulle stamp hulleself kort-kort teen die Rots !

Hoekom baie van hierdie mense nie maar die (Christelike) teologie vaarwel toeroep nie, weet ‘n mens nie altyd nie. Die Skrif sê egter ook dat daar struikelblokke moet wees, maar waarsku oor die lot van hulle wat struikelblokke is (Matt. 18:7).

Het jy al ooit daarvan gehoor dat so ‘n bohaai oor Allah of Mohammed of Buddha of wie ook al gemaak word? Nooit, daar bestaan nie so iets nie. Hulle is nie die Rots van struikeling nie !

As ons vandag net na die situasie in Jerusalem kyk, behoort ons eintlik verstom te staan oor die absolute akkuraatheid van die profetiese woord van God. Sag. 12:2,3 noem Jerusalem ook as "‘n baie swaar klip" en verder as "‘n beker van bedwelming" vir al die volke. Hierdie woord gaan in vervulling vandag. So terloops, het jy al ooit daaraan gedink dat geen nasie teen Israel kon veg tussen 70 n.C. en die jaar 1948 nie. Daar was geen volk van Israel wat in daardie tyd in hulle land was om teen te veg nie ! Vandag egter is hulle daar en die aanslag word al hoe groter. Sag. 12,13 en 14 gaan juis oor die laaste tyd voor Christus weer kom. Niemand kan dit betwis dat die Woord tans in vervulling gaan nie. Die tekens is daar, die tendense baie helder. Baie probeer dit ontken, maar slaag hoegenaamd nie daarin nie. Talle glo ons kan die wêreld ‘n beter plek maak, maar dit is wensdenkery. Hierdie wêreld beweeg op ‘n vaste baan. Dit is geensins negatiewe of pessimistiese aansprake nie, nee, vir elke weergebore Christen dui dit die begin van ‘n besonderse nuwe tyd aan - verseker ook nie in hierdie wêreld nie.

Ons kan nie die toekoms verander nie. Ons kan wel inskakel by die God van die toekoms !

Jesus Christus het talle profetiese uitsprake gemaak, veral in sy bekende profetiese rede. So het Hy in Matt. 24:11 gewaarsku dat "baie valse profete sal opstaan" en dat hulle "baie mense" sal mislei. Om die waarheid te sê, sy heel eerste woorde nadat die dissipels Hom gevra het wat die teken van sy wederkoms en van die voleinding van hierdie wêreld sal wees, was juis: "Pas op dat niemand julle mislei nie."

(Matt. 24:3,4). Hy het ‘n hele paar keer hieroor gewaarsku. Ja, die koms van hierdie Skrifkritici is voorspel in die Bybel.

Die valse uitsprake oor die Woord vandag is vooruit geprofeteer ? dit bevestig die waarheid van die Skrif !

Om egter ‘n boodskap hieroor te hoor, is uiters raar. As jy in hierdie woorde van die Here sou glo, word jy as baie negatief beskou. Dan is jy ‘n draer van slegte nuus. Hoekom word Christus dan nie ook beskuldig as ‘n draer van slegte nuus nie - Hy het dit gesê. Die feit van die saak is dat hierdie geen slegte nuus is vir hulle wat God ken nie ! Dit sê vir jou dat die woorde van Op. 22:7 nl.: "Kyk, Ek kom gou", die absolute waarheid is.

In 1 Joh. 4:2,3 lees ons egter die antwoord op die sg. ‘Soektog na die historiese Jesus’. Onthou nou hierdie mense ontken dat daar werklik ‘n Jesus Christus op aarde geleef het. Hulle sê dat Hy nie regtig in die vlees gekom het nie. Die Skrif wat byna 2000 jaar gelede opgeteken is, het so ‘n tyd voorsien en waarsku dringend: "Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld." Hierdie is die ou tendens, die ou storie. Dit kom al van Gen. 3 af. Dit is vandag nog met ons.

Die weg word tans berei vir hierdie persoon wat die Bybel die Antichris noem, al word dit ook deur baie ontken.

- As dit so sou wees dat Christus nie fisies op aarde geleef het nie, hoekom gebruik ons steeds die jaartelling sedert sy geboorte ? Hoekom leef ons nou in 2000 n.C.? As jy wil praat van 2000 BCE (‘before the common era’), hoekom het die ‘common era’ juis begin rondom hierdie Christus se sg. geboorte ?

- Hoekom is die oudste geskrifte wat nog ooit in Rusland gevind is, juis wasplate met drie Psalms daarop en ook juis die Evangelies (van ‘n Christus wat nie geleef het nie?) wat dateer uit 1056 n.C. ?

(Die Volksblad, 7 September 2000).

- Wat van die Magdalen Papyrus (66 n.C.), wat onlangs ontdek is en wat bevestig dat die huidige Bybel absoluut akkuraat is ? Hierdie is die oudste fragment van die Nuwe Testament wat nog gevind is en bewys die Textus Receptus grondteks as heeltemal korrek.

- Hoekom was die dissipels van Jesus en so vele na hulle bereid om hulle lewe af te lê vir hierdie Christus as daar nooit ‘regtig’ so ‘n Persoon bestaan het nie?

- Hoekom het Christus se ware volgelinge so ‘n doelgerigte lewe gelei as alles net ‘n mite was ?

- Wat van sy hoofdoek wat netjies opgerol en eenkant gelê het in sy leë graf ? (Joh. 20:7).

 

Om te dink die liberale teoloë van ons dag noem hulle sg. navorsing ‘nuwe lig’. Dit lyk baie verdag en herinner sterk aan die oeroue ‘lig’ van Lucifer (vroeër die ligdraer). In Gen. 3:5 het hy die eerste mense ook oortuig dat hulle ‘nuwe lig’ sal sien as hulle oë sou ‘oopgaan’. Dit was toe al die tyd "die god van hierdie wêreld" wat "die sinne" van die mens kom "verblind het" (2 Kor. 4:4) deur hulle te ooreed om God se Woord nie te glo nie.

Hierdie mense, gelei deur "‘n ander gees", verkondig ‘n Bybelvreemde "ander Jesus" met ‘n totaal "ander evangelie" (2 Kor. 11:4). Die uiteinde hiervan is ook ‘n totaal ander eindbestemming as waarop baie gereken het. Die ware Christus het in die vlees gekom en "in Hom het ons die verlossing deur sy bloed." (Efes. 1:7).

Al hierdie gebeure van die laaste tyd is net ‘n bevestiging dat die Woord absoluut waar is. Dit wys juis vir ons dat hierdie God presies is wie Hy gesê het Hy is. ‘n Mens word eintlik koud as jy dink hoe akkuraat die Skrif is. As jy die Here egter ken, word jou hart warm van opgewondenheid. Die Bybel is die mees unieke Boek op aarde. Dit is die Boek der boeke en daarom verkoop hierdie Boek nog steeds meer as enige ander boek wat ooit geskryf is. Dit opsigself is genade op genade. Hierdie God is ‘n God van liefde, maar ook is Hy ‘n Regverdige God en verseker ook ‘n verterende vuur !

‘Soektog na die historiese Jesus?‘ Jy kan soek en soek, maar een ding is seker:

"Julle sal My soek en vind, as julle na My vra met julle hele hart." (Jer. 29:13).